Kogelberg perpetuated in Mint

Kogelberg-biosfeerreservaat in die Kollig

Kogelberg-biosfeerreservaat munt-reeks in Goud en Silwer

Tumi Tsehlo and Jo-Ann Strauss

Tumi Tsehlo, bestuurshoof van die SA Munt, en Jo-ann Strauss, glanspersoonlikheid en seremoniemeester, wys hier teen die agtergrond van ‘n blomme-rangskikking hoe die Kogelberg-munte lyk.
(Foto: A Better World (Pty) Ltd)

Die Kogelberg-biosfeerreservaat is op Woensdag 23 September 2015 internasionaal in die kollig geplaas by ‘n glansgeleentheid waartydens die SA Munt ‘n reeks goud- en silwermunte oor dié streek bekendgestel het. Dit vorm deel van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) se Internasionale Wêrelderfenismuntprogram en word wêreldwyd bemark. Oor die volgende sewe jaar gaan die SA Munt elke jaar ‘n reeks uitreik oor een van die land se ander biosfeerreservate.

As die oudste biosfeerreservaat in Suid-Afrika het Kogelberg die eer gekry om die onderwerp van die eerste uitreiking van hierdie versamelaarstukke te wees. Die vier munte – twee in goud en twee in silwer – beeld bewaring en volhoubare benutting uit: op die goues verskyn die Kaapse luiperd, die bergroos, die swart tobie, die Afrika-pikkewyn, die Kaapse otter en die eko-hutte by Oudebosch as simbole van bewaring, terwyl landbou in die Elgin-vallei en seevissery (walvisse en perlemoen) volhoubare benutting op die silwer munte simboliseer.

Die mens en die natuur in harmonie

Geen koste is ontsien om die boodskap dat die mens en die natuur in harmonie moet saambestaan oor te dra nie. Twee video’s – een in animasie vir kinders en die ander een waarop verskeie bekende persoonlikhede in die streek getuig oor hoe die biosfeerreservaatkonsep ‘n verskil in hul lewens maak – is tydens die geleentheid bekendgestel.

Die restaurant en wynkelder van die plaas Waterkloof was met sy manjifieke uitsigte oor die berge en Valsbaai ‘n briljante keuse as venue, maar dit is verder versier met van die mooiste blomme uit die Kogelberg. Al die produkte wat by die funksie voorgesit is, het uit die Kogelberg-biosfeerreservaat gekom: vleis van vrylopende hoenders en hase, appels, groente, kruie, heuning, sjokolade, wyn en selfs handgemaakte bier.

Die seremoniemeester, Jo-Ann Strauss, het geskitter in ‘n Okasie ontwerpte uitrusting wat deur die gebied se kleure en teksture geinspireer is.

Media-verteenwoordigers is na verskeie besienswaardighede en van die ontwikkelingsprojekte in die gebied geneem. Dekking is al in verskeie dagblaaie gegee terwyl daar ook artikels in verskeie tydskrifte geplaas sal word.

Foto-gallery van die geleentheid

Foto’s (Leanie Herbst)
938 Total Views   2 View(s) Today
  Vol 2, Issue 4 - December 2015
  , , , .