Opruimingsaksie op Kleinmond strand

Silwerskoon? Moenie glo nie!

Fanie Krige vertel Kleinmond se strand Sondag het op 19 Julie 2015 silwerskoon gelyk toe ‘n groep deelnemers aan ‘n Mandeladag-opruimaksie onder die vaandel van die WWF, Hangklip-Kleinmond Toerismeburo en Clean C omstreeks tienuur byeengekom het. Maar 67 minute later was almal verbaas oor wat daar nog van die strand en tussen die duineplantegroei uitgehaal is: wrakstukke van ‘n vissersboot wat meer as ‘n jaar gelede by Bettysbaai op die rotse geloop het, ‘n verroeste rooster, bottels, vodde en sakke vol ander gemors.

Die weer het pragtig saamgespeel om van die dag ‘n sukses te maak en dit is jammer dat daar nie meer mense opgedaag het nie. Die geleentheid was puik georganiseer en daar was genoeg veiligheidshandskoene en plastieksakke vir almal se beskerming.

WWF se simbool, die reuse-panda, was ook in lewende lywe teenwoordig tot groot vreugde van die kinders wat daar was. Ray Chaplin, die eerste mens wat die volle lengte van die Oranjerivier geswem het, het ook kleur aan die dag verleen.

Opruimingsaksie op Kleinmond Strand

By die opruimingsaksie op Kleinmond strand was van links Mkhululi Siyandela, Nicolette Baadjies, Lisel Krige, Fredeline van der Merwe en Mathilda Abrahams.

511 Total Views   2 View(s) Today
  Vol 2, Issue 3 - September 2015
  , , , , , , , .